Die Goue Bul van 1356 was die belangrikste voorreg en grondwetlike dokument van die middeleeuse Heilige Romeinse Ryk waarin die prosedures vir die verkiesing en bekroning van die Romeins-Duitse konings deur 'n kollegium van keurvorste tot die einde van die Ou Ryk in 1806 vasgestel is.
Die benaming verwys na die oorkonde se goue seël, maar het eers in die 15de eeu gebruiklik geword. Karel IV het die wet, wat tydens sy regentskap afgekondig is, unser keiserliches rechtbuch ("ons keiserlike wetboek") genoem.
Die eerste 23 hoofstukke ("Neurenbergse Wetboek") is in Neurenberg saamgestel en op 10 Januarie 1356 tydens die Neurenbergse Hofdag afgekondig, die hoofstukke 24 tot 31 ("Wetboek van Metz") op 25 Desember 1356 in Metz.